Jocelyn Bell Burnell | |
---|---|
J. Bell Burnell in 2009
| |
Doopnaam | Susan Jocelyn Bell |
Geboorte | 15 Julie 1943; Noord-Ierland |
Beroepsveld | Astrofisika |
Vernaamste prestasie | Ontdekking van die eerste 4 pulsars |
Jocelyn Bell Burnell (*1943) is 'n Britse astrofisikus wat in 1967 as nagraadse student die eerste radiopulsars ontdek het. Sy deel die erkenning van die ontdekking met haar destydse studieleier, Anthony Hewish. Sy is tans president van die Instituut vir Wetenskappe, 'n wetenskaplike liefdadigheidsorganisasie met die doel om die uitoefening, begrip en toepassing van wetenskap te bevorder.
Die dokument wat die ontdekking van pulsars aangekondig het, het vyf outeurs gehad, met Hewish se naam eerste, gevolg deur Bell s'n. Die Nobelprys vir Fisika is in 1974 aan Dr. Hewish toegeken vir hierdie ontdekking (gedeel met die sterrekundige Martin Ryle), sonder dat Bell enige erkenning ontvang het. Hierdie toekenning het omstredenheid veroorsaak en is deur Hewish se medesterrekundige, Sir Fred Hoyle, sterk afgekeur.[1] Die befaamde Sowjetse sterrekundige Josif Sjklofski het Bell in 1970 tydens die Internasionale Sterrekundige Unie se Algemene Vergader genader en aan gesê: "Mejuffrou Bell, jy het die grootste sterrekundige ontdekking van die twintigste eeu gemaak".[2]